top of page
Search

Die koeël is deur die kas

Geïndoktrineerde homophobia het gemaak dat dit my drie-en-twintig jaar gevat het om te besef ek is gay. #vulnerablepost


Die eerste keer in my lewe wat ek walging ervaar het, was in ‘n nagmerrie. Ek was nog klein, definitief nie ouer as tien nie. Ek het gedroom ek is in my ouma en oupa se kombuis en daar het maaiers uitgebroei. Hulle was oral om my en ek was vasgekeer in ‘n hoekie agter ‘n kas. Hulle het aangehou nader en nader kom en ek kon nie weg kom nie. Die beste manier wat ek die gevoel kan beskryf is ‘n kriewelrige vrees wat naar maak, en jou uit jou eie vel wil laat uit kruip. Die gevoel begin agter in jou nek en gril dwarsdeur jou ruggraat tot by jou toonsenuwees uit. Na daardie droom het ek die gevoel nog net in twee ander scenarios beleef: wanneer my kat of hond ‘n muis of voël doodmaak en ek die opgeskeurde lyk moet weggooi; en toe ek gekonfronteer is met die gedagte aan intimiteit met ‘n man.


Soos ons reeds weet, kom ek uit ‘n baie Christelik-konserwatiewe agtergrond. In hierdie mileu is daar van baie klein af vir my geleer dat ‘n soet, Christen dogtertjie vêr wegbly van seuntjies af. Soet dogtertjies dink nie aan seuntjies nie, hulle hou hulleself besig met hulle studies en hulle speel met hulle maatjies. Hulle is pragtig om na te kyk, en solank hulle net aanhou kyk na hulle voorkoms, sal pappa maar die haelgeweer moet naby hou en sal die seuntjies oor hulle voete val.


Daarom dink ek absoluut niks daarvan dat my gunsteling fliek van kleins af, die Charlie’s Angels is nie. Ek dink niks daarvan dat mans karakters in al wat ‘n boek en tv-reeks is, vir my weglaatbaar is nie. Ek dink niks daarvan dat alle mans vir my basies dieselfde lyk, en dat ek amper geen onderskeid kan tref tussen die seuntjies in my klas nie. Ek dink ook niks daarvan dat ek elke detail van elke dogtertjie in my klas ken nie. Ek dink niks daarvan dat ek vreeslik op my senuwees raak wanneer ek by die “cool” dogtertjies gaan kuier nie. Ek raak onnatuurlik jaloers as my maatjies kêrels kry, maar dis heteroseksueel van my, neh?


In graad 6 kry ek my eerste “kêrel” – hy is by verre die aantreklikste seuntjie in die hele graad en hy is op pad om ‘n professionele krieketspeler te word. Dalk moet ek hier bysê dat ons juffrou ‘n professionele krieketspeler is en dat ek GEK is oor haar. Skielik is ek MAL oor krieket en weet ek alles van krieket af. Ek hoop sy dink dat ek cool is.


My krieketkennis werk – die seuntjies dink ek is die coolste meisie in die graad en voor ek my kon kry, het ek ‘n kêrel. Ons is goeie maatjies en ons speel saam krieket en raakrugby, maar die lewe gebeur en ek trek Pretoria toe en die kêrel bly in die Kaap. Op die laaste dag voor ons trek, sê hy vir my ek moet hom 17h00 in die parkie kry. Ek gaan na my ma toe. Wat as hy my wil soen? Ek kry daardie rilling by my ruggraat af (die maaier rilling)– ek is te jonk hiervoor. My ma sê hy gaan tienteeneen wil, maar dat ek mag nee sê as ek nie wil nie.


Op Universiteit verander die narratief skielik. Skielik is vroomheid nie meer so cool soos wat dit op skool was nie. Skielik begin al die meisies kêrels kry, en almal vry links en regs en ek bly gril. Dit pla my nie te veel nie, want daar is nog baie tyd; ek sal nog lus en geïnteresseerd raak. Maar ek doen nie en in my derde jaar gril ek nog steeds net soveel as wat ek in graad 6 gegril het. Die verskil is, nou raak ek raak nou angstig, en die mense om my lig wenkbroue. Iewers moet ek begin groot word en begin man soek, maar in die hele Stellenbosch is daar nie een man wat vir my aantreklik genoeg is om te wil soen nie.


In die middel van 2021 kry ek uiteindelik ook my eerste kêrel. Nie omdat hy so aantreklik is nie, maar omdat die vent dink “ja” en “nee” is sinonieme en geensins optel op my aversie nie. Eintlik hoort hy agter tralies, maar desnieteenstaande, hy vat nie nee vir ‘n antwoord nie en hier is hy my kêrel. Dit hou egter (genadiglik) net ‘n maand van langafstand, want wat die man kort in breinselle het hy definitief in jagsheid en daar is nie ‘n manier wat ek my maagdelikheid opoffer vir ‘n man wat kwalik sy eie naam kan spel nie. Tenminste het ek nou my eerste soen en eerste vry gehad, maar ek het absoluut geen behoefte om daardie lyding ooit weer te herhaal nie.


‘n Jaar later kry ek die tweede kêrel. Hy is die absoluut teenoorgestelde van die vorige een, behalwe dat hierdie een ook langafstand is. Ek voel uiteindelik meer gerus- ek het ‘n kêrel so ek is normaal. Dit vat hom ses maande in die verhouding in voordat hy my die eerste keer ‘n piksoen gee. Sy pelle begin hom waarsku dat ek hom gaan los as hy nie sy sokkies optrek nie. Die ironie is dat daardie eerste soen die begin van die einde is. ‘n Verhouding is toe nie net ‘n ander naam vir goeie maatjies nie, dit kom met voorwaardes. Skielik besef ek dat na soen kom vry en na vry kom ‘n ander ding en die maaier gril het my beetgepak. Daar is niks fout met hom nie, so hoekom hierdie aversie, Nina?


In Desember 2022 gaan ons na ‘n vriendin van hom se troue toe. Dit is rubicon oomblik, al besef ek dit nie op daardie tydstip nie. Terwyl die hele vertrek die pragtige huwelik tussen twee verliefdes vier, wil ek naar raak. Die maaiergril sit in my keel en ek sukkel om nie te begin huil nie. Dis nie wat ek vir myself wil hê nie, ek wil nie trou nie, ek wil nie in ‘n verhouding wees nie, ek wil nie vasgekeer wees nie. ‘n Week later los ek hom en die verligting is groter as wanneer jy droom jy mis ‘n toets en jy skrik wakker om te sien jy het nog ure oor voordat jy hoef op te staan.


Na hierdie verhouding sweer ek dat ek nooit gaan trou nie. Ek besluit ek is net nie gebou vir spansport nie, want ek is net te veel van ‘n feminis en heeltemal te selfsugtig. Ek haat inelkgeval mans en verhouding dinamika laat my gril. Een van my vriendinne vra my of ek nie miskien gay is nie? Natuurlik is ek nie gay nie! Ek is nie soos mans wat vrouens seksualiseer nie. Ek is nie ‘n roofdier nie. Ek is nie jags en wil al wat rok dra molesteer nie – natuurlik is ek straight. Natuurlik voel ek aangetrokke tot mans, al haat ek elkeen van hulle.


Hoekom dink ek dis hoe lesbians oor vrouens dink? Want dis wat ek geleer is. Om gay te wees is ‘n sonde, en al het ek dit nog nooit geglo nie, was die onderwerp so taboo, dat ek as kind maar my eie prentjie moes vorm van hoe ‘n gay verhouding lyk. Ek word heteroseksuele verhoudings gewys en daar word vir my vertel dat homoseksuele verhoudings presies dieselfde is, albei persone is net van dieselfde geslag. So as ek van vrouens hou, moet dit noodwending beteken dat ek soos ‘n man is. Mans seksualiseer vrouens, so dis wat lesbians doen. Ek het ‘n diepe waardering vir vrouens, so ek is nie ‘n lesbian nie. Maklike wiskunde: 1 en 1 maak mos 5.


Ek haat nou wel mans, maar dis as gevolg van my pappa-probleme en feminisme – baie vrouens doen. Met elke dag wat verby gaan, groei my haat vir mans, want ek is straight, maar mans is sulke walglike kreature dat dit absoluut onmoontlik vir my is om hulle aantreklik te vind. Nie net is hulle so walglik dat ek hulle nie aantreklik kan vind nie, hulle is so walglik dat hulle dieselfde gevoelens in my ontlok as die maaiers in my droom – ‘n vrees wat ewe veel walg en kwaad maak.


Toe sien ek ‘n tiktok, ja ‘n tiktok. Dit is van ‘n lesbian wat eers op 25 uitgekom het as gay en in die video lys sy van die tekens wat haar vroeër moes laat besef het dat sy gay was. Ek merk elke blokkie. Is ek…’n lesbian…? Ek begin my lewe herevalueer: ek vervang die man in my denkbeeldige verhouding en skielik kan ek my vir die eerste keer in my lewe sien trou. EK IS ‘N LESBIAN! Skielik haat ek nie meer mans nie, want ek besef dit was nooit die mans nie, dit is en was ek! Ek dink nog steeds mans is kinderagtig en moet beslis nie in leiersposte toegelaat word nie, maar ek haat hulle nie meer aktief nie. Daar is niks fout met my nie, ek is nie gebreek nie, ek is net gay.


Ek het gewik en weeg of hierdie plasing moet maak. Ek deel hierin goed wat net my binnekring weet, maar ek voel dat ek ‘n verpligting het om dit wel te doen. As dit nie was vir die tiktoker wat haar kwesbare storie gedeel het nie, sou ek nog steeds deurmekaar en in die kas gewees het. Hierdie Junie maand is ek vry en trots, en uiters dankbaar dat ek nooit weer in die kas hoef in te klim nie. Die kas is ‘n donker plek, en so ook die haat wat daarmee saam kom.


486 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page