Ek het lanklaas ‘n blog plasing gemaak. Soveel so dat die webbediener wat ek gebruik my al begin teister het soos die Duolingo uil. Hoe langer ek die blog ignoreer, hoe meer wil ek dit ignoreer. Daar is kommentaar gelos op van my vorige plasings waarvan ek die uittreksel wat na my e-pos gestuur is, gelees het, maar nie regtig eintlik die res van wil sien nie. Met elke plasing wonder ek watter van my eienskappe vandag se teiken gaan wees: my ouderdom, my geslag, my familie, my ervaring?
Die kommentaar wat ek die heel meeste kry is een of ander vorm van: “eendag as jy groot is sal jy verstaan hoekom jy verkeerd is.” Kommentaar wat 90% van die tyd gemaak word deur mans van my generasie. Dit maak nie saak wat die onderwerp is nie, dit blyk daar is altyd een of ander onsigbare waarheid wat my totaal ontwyk, maar inherent en volkome verstaanbaar en sigbaar is vir alle heteroseksuele, wit, Afrikaner mans. Vir baie lank het ek hulle geglo. Ek het in die kerk gesit, my mond gehou en geglo dat as ek lank genoeg luister sal ek ook siende word. Ek het dopgehou, gelees, geluister en gewag vir die dag wat die wysheid my sal ophou ontwyk. Daardie wysheid wat segregasie regverdig, wysheid wat vrouens ondergeskik maak, wysheid wat kinders se pakslae regverdig en LGBTQAI+ veroordeel. Die wysheid wat eers die Kerk, en toe die Kolonie en uiteindelik die Republiek gevestig het. Tog het die wysheid my bly ontwyk.
Hoe harder ek probeer het om die wysheid van my voorgeslagte in te win, hoe meer het die wysheid egter soos dwaasheid begin voorkom. Moenie my verkeerd verstaan nie, ek het HARD probeer. Ek het elke argument van voor tot agter driedubbel deurgetrap soos ‘n matriekstudent wat reeds die antwoord van ‘n som het en nou hulle berekeninge daarby probeer inpas. Ek het geesdriftig probeer glo dat die memo reg was, maar iewers moes ek aanvaar dat twee en twee vier maak en nie vyf nie; en iewers moes ek aanvaar dat dit wat staande bly van my erfenis onderdrukking, rassisme, seksisme, homophobië en transphobië in die naam van Christenskap is. Iewers moes ek aanvaar dat Suid-Afrika soos wat hy staan, gebou is op onderdrukking en uitsluiting, en dat ek ‘n slagoffer van my eie voorgeslagte se onverdraagsaamheid sou wees as ek maar ‘n paar jaar ouer was.
Wat bly vir my oor om te vier op Erfenisdag? Vier ek rugby, bier en boerewors in die naam van ‘n reënboognasie terwyl die reën die sink shacks in die Flats verspoel? Vier ek vergifnis en versoening terwyl boere op hulle plase uitgemartel word en die apartheid-kabinet sagkuns as helde met hulle miljoene heengaan? Vier ek vooruitgang en ontwikkeling terwyl die ekonomie verder in rommelstatus afsak en die ougeld tog maar staande bly? Vier ek die mag wat van een patriargale samelewing oorgegee is aan ‘n volgende een waarin korrupsie en eiebelang net anders verpak word in die naam rasionaliteit en redelikheid?
Ek dink hierdie Erfenisdag vier ek al die blindes en dwase in my voorgeslagte. Die mense wat nooit in die voorste rye van die kerk verwelkom is nie, maar aangehou bid het. Die wat op grond van hulle onveranderbare eienskappe uitgesluit is om deel te hê aan die voorspoed van die samelewing. Almal wat nie wit genoeg was nie, nie man genoeg nie, nie oud genoeg nie, nie heteroseksueel genoeg nie, nie ryk genoeg nie, en nie Christen genoeg nie. Ek vier almal wat nooit wys genoeg sal wees om te verstaan hoe twee en twee vyf maak nie, want danksy hulle is daar hoop op ‘n môre waar twee en twee ‘n gelyke vier maak.
Perfectly put 🥹🙌🙌 can we just appreciate my smart amazing gorgeous sister’s way with words