top of page
Search

Stellenbosch of Babel?

Updated: Feb 17, 2023

Die Universiteit Stellenbosch (“US”) skop sy 2023 akademiesejaar op 13 Februarie af. Op dieselfde dag verskyn die volgende opskrif in Die Burger-koerant: “Maties in nuwe ‘taalverbod.’” Dit volg nadat bewerings aan die lig gekom het dat eerstejaarstudente tydens die afgelope verwelkomingstydperk verbied is om op sekere aangeleenthede Afrikaans te praat. Dit is net daar, dames en here, waar die appelkar om val. Pro-Afrikaanseorganisasies kondig ‘n kode blou af – mediaverklarings moet so gou moontlik uitgereik word, politici sien ‘n gulde geleentheid vir stemme werf, joernaliste juig, want hulle kry vir ‘n oomblik iets anders as die kragkrisis om oor te berig. Verskrikte ouers kanselleer onmiddelik hulle kinders se koshuisplasing en Tannie Lettie laat haar Facebook-vriende uit Pretoria weet dat sy eerstehandsekennis van die afskuweliketoestande op Stellenbosch het, want haar suster het met haar eie oë die artikel gelees.


Gelukkig is ek self ‘n Afrikaanse- en Afrikanerstudent op Stellenbosch en kan ek amper so goed berig oor die gebeure soos Tannie Lettie, al kry my suster nie Die Burger in die pos nie. Die verwelkomingstydperk by die US is ‘n baie belangrike tydperk wat ongelooflike hardewerk van US-bestuur en seniorstudente verg. Eerstejaarstudente met verskillende sosio-ekonomiese agtergronde kom van regoor Suid-Afrika uit totaal verskillende taal-, kultuur-, en geloofsgemeenskappe om almal hulle tersiêreonderrig voort te sit by een instelling. Indien studente van US-behuising gebruik maak, beteken dit dat hierdie mense met hulle verskillende agtergronde ‘n gemeenskaplike woning gaan moet deel. Vir baie van hierdie studente is dit die eerste keer dat hulle werklik te doen kry met mense van ander agtergronde as hulleself en US-personeel en seniorstudente is getaak om tydens die verwelkomingstydperk studente te bemagtig om met respek met mekaar om te gaan.


Indien mens in ag neem dat Suid-Afrika elf amptelike tale het, kan mens dink dat dit ‘n Babelse-verwarring gaan afgee as elke student aandring om slegs in hulle moedertaal te kommunikeer. In my eerstejaar het ons Huiskomitee (HK) hierdie verwarring gedemonstreer deur ‘n vasvra te reël en ‘n vraag in elk van die amptelike tale te vra. Daar was nie een eerstejaar wat die hele vasvra kon beantwoord nie. Die een taal wat almal egter op ‘n basiese vlak kan praat en verstaan is Engels.


Dis op hierdie punt wat die vreesaanjaers hulle spitvurke in die lug gooi en sê: “Ek gaan nie die taal van die vyand praat nie; die Engelse het ons vrouens en kinders in die konsentrasiekampe vermoor en ons uitgebuit; Engels is net ‘n liberale aanslag op ons kultuur.” Daar is waarheid in die stelling. Die Engelse het Suid-Afrika gekolonialiseer en daar was ‘n boere-oorlog, maar die boere-oorlog het slegs gebeur omdat die Hollanders eerste Suid-Afrika gekolonialiseer het en ‘n klomp ander Europese groepe toe op hulle skippies gespring het om ook te deel in die hulpbronrykegrondgebied. Die gevolg is dat hierdie klomp kolonialiste ‘n splinternuwe, hardkoppige nasie met sy eie splinternuwe taal en sonbestandevelle hier in Suid-Afrika kom vorm het, wat, al sou hulle wou (en van hulle wil), nie kan teruggaan Europa toe nie. Hulle is eenvoudig nie meer Europieërs nie en Europa wil hulle sedert die 1800’s nie meer hê nie. Hierdie hardkoppige nasie is egter by verre nie die enigste hardkoppige nasie wat aanspraak kan maak op bestaansreg in Suid-Afrika nie.


Tenspyte van Suid-Afrika se oorlogryke geskiedenis - dink maar aan die Mfecane, die boere-oorlog, Bloedrivier en nog baie meer - is daar elf amptelike tale. Dit beteken dat daar elf amptelike kultuur- en taalgemeenskappe is wat hardkoppig genoeg was om nie op te hou stry vir bestaansreg in Suid-Afrika se grondgebied nie. Daar is baie onskuldige bloed gegied en Suid-Afrika se geskiedenis is besmet met onreg. Ongelukkig is hierdie stryd in baie opsigte steeds ‘n voortdurende een, want min van ons land se kinders het die voorreg om kwaliteit opvoeding in hulle moedertaal te kan ontvang en grondbesit is ‘n nagmerrie. Ons armoede en werkloosheid is disproporsioneel, lewenskoste is onbetaalbaar hoog en ek skryf hierdie artikel in die donker, sonder elektrisiteit, want ons is op fase 4 beurtkrag. Dit is egter tyd om die dooie oorlogkoei in die sloot te los.


Die boere-oorlog, die Mfecane, Bloedrivier en diesmeer is verby. Engels, Afrikaans, Zulu, Xhosa ens. is alledaagse tale wat in Suid-Afrikaanse huise deur Suid-Afrikaners gepraat word, afgesien van hoe die tale in Suid-Afrika gevestig is. In 2023, op die US se kampus, is Engels toevallig die taal wat almal in die vertrek kan praat en verstaan. As ek my mede-student tegemoet kan kom deur Engels te praat, beteken dit nie dat ek my bestaansreg in Suid-Afrika prysgee of my voorsate verraai nie. As ek Afrikaans praat tussen my vriende of met trots sê dat ek ‘n Afrikaner is, beteken dit ook nie dat ek my voorsate se aksies goedkeur of verafgod nie. Ons kan nie teruggaan en die verlede se foute regmaak nie, maar ons kan leer en nie dieselfde foute herhaal nie. Daarom respekteer ek my landgenoot deur ‘n taal te praat wat ons altwee verstaan, want ons is hier en nou saam om te studeer aan die US om die broodnodige vaardighede aan Suid-Afrika se ekonomie te bied wat ons uit ons rommelstatus gaan lig.


Om meer as een taal magtig te wees, is ‘n kuns en spreek van ‘n bevoorregte posisie waarin gehalte onderrig en opvoeding ontvang is. Ek kan met trots sê dat sedert ek op Universiteit Duits en Latyn geneem het en in Engels studeer, my Afrikaans beter is as wat dit nog ooit was, want vir die eerste keer moet ek dink voordat ek praat. Ek kan vir die eerste keer my moedertaal waardeer op ‘n tegniese vlak. My grootste verwyt aan my bevoorregte skole is dat ek slegs twee van ons elf amptelike tale geleer is, want ek wens ek kon met my medestudente in hulle moedertaal ‘n gesprek voer.


Dit is nou belangriker as ooit vir Suid-Afrikaners om mekaar tegemoet te kom, te kommunikeer in ‘n gemeenskaplike taal en ‘n oplossing vir ons probleme te vind. Terwyl die vreesaanjaers met hulle fakkels en spitvurke Babelse verwarring op kampusse veroorsaak, is korrupte staatsamptenare besig om hulle sakke vol te stop met burgers se belastinggeld. Die enigste konstante is verandering, en as ons wil hê dat die verandering tot ‘n goeie toekoms lei, gaan ons mekaar moet verdra en tegemoet kom, want Suid-Afrika is vir almal wat nou hier is.




319 views3 comments

3 comentarios

Obtuvo 0 de 5 estrellas.
Aún no hay calificaciones

Agrega una calificación
neha.singh11
17 feb 2023

wow! Amazing

Me gusta

What a serve!🙌

Me gusta

irmabreytenbach1
16 feb 2023

Briljant

Me gusta
bottom of page