Indien jy, soos meeste regdenkende mense, nie noodwendig die rapport lees nie, is jy dalk nie bewus van die “twis” binne die US konvokasie nie. Indien jy die rapport lees, is jy beslis bewus van die “twis”, maar terwyl jy waarskynlik die klok hoor lui het, weet jy klaarblyklik nie waar die bel hang nie. Dit wil voorkom of nóg die rapport, nóg Jan Heunis en sy ondersteunders, weet waar die bel hang.
Daar is geen twis binne die konvokasie nie - daar is ‘n konvokasie, en daar is ‘n gekaapte uitvoerende bestuur wat ‘n neo-apartheid agenda dryf. Hierdie tipe verwarring is een wat ek gereeld onder eerstejaar regstudente opmerk wanneer hulle hulle eerste tutoriaal beantwoord. Wyl hulle argument pragtig is, het die vraag gevra watter kleur die lug is. Hulle het verduidelik hoekom die gras groen is. Ter duidelikheid oor die kwessie, die volgende:
Die Heunis-faksie maak van ‘n oer oue argumenteringstegniek in die regsprofessie gebruik. Die taktiek werk as volg: skep jou eie narratief, veroorsaak so veel moontlik verwarring deur irrelevante artikels in wetgeving te lys ter stawing van hierdie narratief, en argumenteer die narratief met die selfvertroue van ‘n tweedehandse motorhandelaar. Wanneer enige iemand jou narratief teengaan, maak jy hulle belaglik deur hulle voorkoms, geslag, ouderdom, taalmagtigheid, ras of kultuur aan te val. In hierdie geval is die gekose narratief die uitwissing van Afrikaans deur ‘n “tannie wat net wil Ingels praat” en haar politikus maatjie wat graag die Konvokasie President-portefeulje vir homself wil hê. Hierdie narratief word in kort videos verpak wat oor Facebook en Whatsapp gestuur word om die klas van 1963 op hol te jaag. Hierdie taktiek spreek egter van ‘n gebrek aan intelligensie en etiek en kinderagtigheid wat moeilik is om te vereenselwig met ‘n senior advokaat en sy hoogs geleerde ondersteuners.
Die Konvokasielede en die beweging wat in opstand gekom het teen die uitvoerende bestuur is nie ongelukkig omdat daar opgetree word teen nepotistiese gedrag nie. In teen deel, SUNewConvoRise is Heunis en kie eens dat indien die Rektor hom skuldig gemaak het aan onetiese gedrag, dit in die belang van die US is dat hy moet gly. Ons ongelukkigheid is dat die bestuur onder leiding van President Heunis, met die uitsondering van Rudi Buys, dit goed gedink het om as aanklaer en sommer regter ook op te tree sonder om die proses te volg wat in die Universiteit se beleid uiteengesit is. Hulle het dit verder nie nodig geag om te wag vir 'n formele ondersoekproses se bevindinge nie, hulle het die Rektor skuldig bevind op grond van media artikels en hoorsê. Ek sou dink dat ‘n mede-regsgeleerde sou weet dat iemand onskuldig geag word todat hulle skuldig bevind word, maar dalk was daardie aanname nie deel van die apartheid-kurrikulum nie.
Hul regverdiging is dat omdat die Konvokasie President demokraties verkies is, hy dan volmag het om sonder enige oorsig op te tree namens die Konvokasie, selfs wanneer hierdie optrede teenstrydig met die Universiteit se belange is. Dit is ‘n baie ironiese argument, gegewe dat daardie argument die presiese een is wat die apartheidsregering gevolg het. Mens sou dink dat die seun van ‘n voormalige apartheids minister nie weer sy pa se party se foute sou herhaal nie. Wat sê die spreekwoord nou weer oor ‘n donkie wat sy kop twee keer stamp?
SUNewConvoRise se verdere grief teen die huidge uitvoerende bestuur is dat hulle agenda vir die verwydering van De Villiers weinig met die beweerde nepotisme te doen het en baie meer met hul eie politieke agenda. Sommige lede van die bestuur, ondermeer Heunis en Van Dyk, maak geen geheim daarvan dat hulle aktief transformasie teenstaan nie. Hulle is dit dus eens dat hulle nie die US ‘n inklusiewe spasie wil maak vir alle Suid-Afrikaners nie, maar eerder voel dat die eksklusiwiteit van die verlede (gebaseer op ras, taal en kultuur), ook die instansie se toekoms moet wees. Dit is dus glad nie skokkend dat die kwansuise nepotisme skandaal breek, ‘n skame week nadat die US sy planne aankondig het om koshuis akkomodasie dienooreenkomstig aan te pas met die verhouding vroue- tot mansstudente nie. Dit is nog minder skokkend wanneer ons terugdink aan Heunis se bedankingsbrief van 2019 en aan van Dyk se huldeblyk aan hom wat gevolg het. Hulle boodskap blyk duidelik te wees: ons sien geen probleem met die verlede nie en wil graag hê die toekoms moet ook so lyk. Hulle ondersteuners verwys nie verniet na hulle-self as die “laaste linie van verdediging” nie.
Verdediging teen wat, vra ek julle? Verdediging teen inklusiwiteit? Verdediging teen relevansie? Verdediging teen verbetering? Verdediging teen regvergdigheid? Op hierdie stadium ís hulle die laaste linie van verdediging. Die laaste oorblyfsels van Suid-Afrika se ongelyke verlede en die laaste klippe wat my generasie nog steeds nie uit die pad uit kan kry nie. Ek het egter nuus vir hulle, dis lankal nie meer hulle instansie en hulle land nie. Die US en die groter Suid-Afrika is nou ons s’n en ons is moeg vir die eksklusiwiteit en onverdraagsaamheid van mense wat kwalik 'n selfoon kan hanteer.
Transformasie beteken nie anti-Afrikaans nie. Ek en baie ander Afrikaanse-mense is pro-transformasie. Transformasie beteken dat almal welkom is soos wat hulle is en dat hulle nie Afrikaans hoef te wees om welkom te wees nie. Dit beteken dat die US ‘n neutrale spasie is waar daar nie een oorheersende kultuur, ter uitsluiting van alle ander is nie. Transformasie beteken dat ek Afrikaans kan wees sonder dat die hele instansie Afrikaans hoef te wees, want ek en my taal en my kultuur is nie so belangrik dat ons die enigste moet wees nie.
Voor die vergadering van 1 Junie, raai ek Heunis en sy volgelinge aan om hulle argumente te gaan herformuleer volgens die feite en nie hulle gekose narratief nie. Dit verduidelik tans hoekom die gras groen is, maar die vraag handel oor die lug se kleur. Verder is dit ook teenstrydig en irrelevant. Ek wonder ook of ‘n moderne, tersiêre instelling regtig die beste plek vir hulle opinies is? Dink julle nie miskien die Suidlanders het dalk lede nodig nie?
Comments