top of page
Search
Writer's pictureNina Breytenbach

Die ongelykheid in gelykheid: Suid-Afrika se melktert

Verbeel jou terug in jou ouerhuis as kind: jou ma verwag die lede van haar boekklub vir ‘n koek-en-tee. Sy het nou net ‘n varsgebakte melktert uit die oond gehaal. Jy en jou boeties en sussies se monde water vir hierdie lekker melktert, en so besluit julle om die helfte van die tert te eet, al is julle nie lede van die boekklub of genooi nie. Dit los slegs die helfte van die tert oor vir die genooide gaste.


Wanneer die gaste kom, dring jy en jou sibbe aan om ‘n regverdige verdeling van die tert te verseker en boonop dring julle aan dat julle elkeen nog ‘n stukkie moet kry. Julle redeneer dat dit anders onregverdig sal wees om nou uitgesluit te word, aangesien julle die opskep werk (wat julle vir julleself toegeëien het) moet doen. Julle argument is dat tyd verloop het sedert julle eerste sny, en dat julle nou weer honger is. Dit is wat in Suid-Afrika ook gebeur.


Witmense in Suid-Afrika (hetsy Afrikaners of Engelse Suid-Afrikaners) is soos die stout kinders - ongenooide gaste. Hulle behoort nie aan die boekklub nie, en hulle het geen uitnodiging ontvang om te kom deel in die koek-en-tee nie. Hulle het met hulle skepe aan wal getree en gekolonialiseer net soos wat die kinders in die storie helfte van die melktert gesteel het. Daar is baie argumente oor latere regverdige koop van grond vanaf inheemse groepe – mens kan argumenteer of enige transaksie regverdig is wanneer die alternatief oorlog is, maar dis ‘n storie van ‘n ander dag.


Die genooide gaste is al die ander mense wat deur kolonialisasie hulle regverdige deelname aan die samelewing geweier is. Toe die deur uiteindelik vir hulle oopgemaak word in 1994, instede van skuldig voel oor die gesteelde deel, voel die kinders baie bang dat hulle nie die oorblywende helfte van die tert ook gaan kry nie. Hierdie snotkoppe het dan nog die vermetelheid om aan te dring om hulle gesteelde helfte te hou, beheer te neem van die herverdeling EN boonop weer in die hervedeling van die tert te wil deel – op meriete natuurlik.


Dit is hoekom ons steeds na amper 30 jaar van demokrasie so ‘n ongelyke samelewing het, want net soos wat daar net een tert is, is daar net een Suid-Afrika. Daar is net sóveel grond, daar is net sóveel werke en daar is net sóveel geld. Dit is basiese wiskunde dat dit nie saak maak hoeveel keer ‘n mens ‘n helfte nog halveer nie, sonder die ander helfte gaan dit nooit heel word nie. Dit is ook hoekom ons amper 30 jaar in ons demokrasie in, steeds ons spasies moet transformeer om inklusief te wees en nie kan terugsit en die status-quo blindelings aanvaar nie.


Ongelukkig is baie van ons verlede soos tert wat opgeëet is – onveranderbaar, maar ons toekoms en ons hede kan nog gered word. Dit gaan egter ‘n einde moet beteken aan “gelyke” herverdeling. Net soos wat dit nie regverdig was vir die kinders om weer tert te kry net omdat hulle later in die dag weer honger geword het nie; so ook is die argument dat die Apartheid verby is en almal nou gelyk behandel moet word, ook nie geldig nie. Die tert bly half, afgesien van wanneer of deur wie die eerste helfte geëet is.


Wanneer ek op die US se kampus loop is dit duidelik wie die eerste helfte van die tert geëet het. Dit word alles behalve van die dakke af basuin. Die standbeelde staan as blywende herinnering van wie se bydraes onthou word. In die geboue se hol name weergalm die onregverdigheid van uitsluiting - Marais, Schumann, Van der Ster. In koshuise spreek die taal van tradisie duidelik van wie welkom is. Die US se deure is dalk vir almal oop, maar die toegangsfooi word steeds in Simon van der Stel se beursie betaal. Daarom is pro-Afrikaner organisasies (‘n polities aanvaarbare weergawe van apartheid), die “all lives matter”-beweging (ook bekend as Trump ondersteuners) en anti-transformatiste, só ‘n groot problem. Hulle almal is doodbang vir ‘n herverdeling wat moontlik substantief regverdig mag wees, want hulle weet hoe onregverdig die verdeling tot nou toe was en hoe onregverdig dit gaan moet wees om die skaal weer te balanseer.


Wanneer al die bogenoemde tereuggetrek word na die US se kampus en die gebeure van die afgelope twee maande, word die tert vergelyking uiters gepas. Daar vorm twee baie uiteenlopende groepe. Die een helfte identifiseer heelhartig met die kinders in die storie. In hierdie groep plaas ek die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie, die uitvoerende raad van die US-Konvokasie, AfriForum, en al hulle ondersteuners. Hierdie groep probeer ten alle koste om ‘n substantiewe hervedeling van die oorblywende helfte van die tert te vermy en beskou hulself dikwels as die bewaarders van tradisie. Dit is egter net net ‘n ander manier om te sê dat hulle toegeweid bly aan die ongelyke samelewing waaruit hulle voordeel trek.


Die ander groep is die genooide gaste van die boekklub en gelyksinniges. In hierdie kategorie val diegene wat ten gunste van transformasie is, m.a.w. ‘n substantief regverdige herverdeling van die oorblywende helfte van die tert, herverdeel deur die genooide gaste. Hierdie groep probeer voortdurend veranderinge te weeg bring, sodat almal welkom is, veral die genooide gaste wat nie in die eerste rondte toegelaat is om te deel aan Suid-Afrika se rykdom nie.


Dit mag dalk moeilik lyk om verandering te weeg te bring terwyl die mag wat teen verandering staan, steeds die mes vashou wat herverdeling kan bewerkstellig. Ek bly egter ‘n ewige optimis, en ek wag vir die dag wat die weegskaal uiteindelik balanseer.


692 views23 comments

23 Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
Rilene Van Staden
Rilene Van Staden
Apr 26, 2023

Nina


Ek ken jou nie, maar na hierdie berig weet ek ook nie of ek myself met jou sal wil omring nie. Hierdie berig is maar net nog ‘n klip wat teen die Afrikaners gegooi word. Al wat verkil, is dat hierdie een deur een van ons “eie” gegooi is, en dit maak seer.

Ek hoop regtig dat jou oë eendag sal oopgaan. En dat jy altyd sal onthou hoe jou voorvaders deur die Here se genade, vir hierdie land baklei het.


Ek heg kommentaar van my vol-bloed Afrikaner vriende hieronder aan:


  1. Ek voel sy het so passievol gewerk vir Afriforum Jeug dat ek nie kan glo dat sy so iets kan skryf nie. Sy het lekker…

Like
Nina Breytenbach
Nina Breytenbach
Apr 27, 2023
Replying to

Dalk is dit tyd vir introspeksie as selfs “julle eie” mense begin klippe gooi?

Like

dewald schoeman
dewald schoeman
Apr 25, 2023

Ek sal sterk aanbeveel dat jy drasties begin belangstel in die geskiedenis van Suid-Afrika voordat jy jou uitlaat oor onderwerpe wat jy duidelik geen benul van het nie.


Maar net om vir jou te probeer verduidelik in die "melktert-terme" wat jy verstaan.


Om 'n melktert te verdeel moet jy eers 'n melktert bak.


Toe ons hier aanland in 1652 was Suid-Afrika 'n woesteny. Die opdrag van die VOC was tog - STIG 'n halfwegstasie, BOU 'n fort. Omdat hier nog geen beskawing was nie!


Die Khoi/San wat ons hier ontmoet het, wat skaars geklee was, het ons nie verdryf of onderdruk nie. Eerder het ons met hulle probeer handel dryf. Totdat hulle 'n beeswagter van ons vermoor het, op …


Like
sjecrowley555
May 23, 2023
Replying to

Ja, sjoe.julle het tog nie met troppe beeste op die skepe gekom

Like

77fransdeklerk
Apr 24, 2023

Diegene wat in hul jongdae nie liberaal is nie, het nie 'n hart nie. Diegene wat mettertyd nie konserwatief word nie, het nie 'n kop nie. Tot 'n mate identifiseer jy wesenlike gelykheidsprobleme in Suid-Afrika. Jou oplossings is egter absurd en lewensgevaarlik.


Like
Nina Breytenbach
Nina Breytenbach
Apr 27, 2023
Replying to

Gelukkig is ek ‘n sosialis.

Like

Doret Le Cornu
Doret Le Cornu
Apr 24, 2023

Môre Nina

Ek is teleurgesteld en ook hartseer oor hierdie skrywe van jou. Dat jy jou eie geskiedenis só afbeeld en teen jou mense kan draai.

Ek het saam met jou fisies op ons geskiedenis se slagvelde gaan stap. Daar het ons saam die lesse van ons voorgeslagte se lewens geleer, ook waar hulle gestruikel het, juis sodat ons kan weet wat om met ons toekoms te maak. Nou lyk dit vir my jy wil ons toekoms net weggooi.

Ek kan baie sê oor waar ek met jou verskil en waar jy nou heeltemal van die pad af is, maar al wat ek nog sal sê is dat ek ook 'n optimis is, en daarom bly ek hoopvol.

Hoopvol omdat…

Like
Nina Breytenbach
Nina Breytenbach
Apr 24, 2023
Replying to

Doret, as ek en jy op dieselfde pad was, sou ek bekommerd gewees het.

Like

semilante
Apr 24, 2023

Hallo Nina,


Dit het my ’n hele naweek gevat om tot my oor my skok te kom. Ek kan steeds nie regtig besluit of ek ’n harde of sagte antwoord op hierdie opinie van jou moet gee nie. Ek is tot in my wese teleurgesteld. Nie net in jou nie, maar in myself ook. Dit voel vir my asof al die jare se harde werk, tyd en moeite verniet was.


Nina, hierdie het seergemaak, maar wanneer jy, soos die verlore seun, besluit om terug huis toe te kom, sal ek jou met ope arms terug verwelkom. Ek kan nie namens enigiemand anders praat nie, maar ek was ook al te veel keer van die pad af om ander te kan…


Like
Nina Breytenbach
Nina Breytenbach
Apr 24, 2023
Replying to

Bold to assume dat ek die een van die pad af is, maar elkeen het sy eie opinie.

Like
bottom of page